Die twee jongmanne wat verlede jaar die ontvangers was van die Absa KKNK se Remgro-beurs, is besig om uit te blink.

Bradley Zeelie en Sulayman Human was die ontvangers van die beurs wat jaarliks aan opkomende kunstenaars bemaak word. Zeelie is ‘n danser van George, terwyl Human ‘n talentvolle pianis is. Albei het die R50 000 wat hulle ontvang het gebruik om hulself vêrder in hul onderskeie velde te bekwaam.

Zeelie het verlede jaar die afrigterskursus aan die Dance for All-akademie in Kaapstad voltooi, asook ‘n oorbrugingskursus vir skoolverlaters wat vêrder in die kunste wil studeer. Die kursusse gee hom die geleentheid om as dans-instrukteur op te tree en sodoende selfstandig te word. “Ek het baie in die kursusse geleer oor dans, maar ook oor hoe die liggaam funksioneer,” sê Zeelie.

Tydens die kursus het Zeelie die geleentheid gekry om as deel van DFA se uitreikingsprogram kinders in Khayalitsha te leer dans. “Ek het soveel ervaring opgedoen en dit is iets wat ek nooit sal vergeet.”

Vanjaar gaan Zeelie aan die Dianna Towsend Balletskool in George die Cechetti-metode studeer. “Hierna gaan ek my internasionale eksamens aflê en dan kan ek enige plek in die wêreld dans afrig.”

Zeelie sê as dit nie vir die Remgro-beurs en die Absa KKNK was nie, sou hy nie sy drome kon uitleef nie. “Ek sou net ’n seun van George gewees het, met niks anders as ’n droom.”

Human, wat musiek aan die Universiteit van Stellenbosch studeer, sê hy sien daarna uit om met sy tweede jaar te begin, na hy sy eerstejaar goed geslaag het . “Verlede jaar het ek, as wenner van die Lional Bowman-beurs, solo-konserte in die Endler-en-Fismersale aangebied,” sê Human.

Die beurs sal nie vanjaar toegeken word nie, maar is vervang deur ‘n stemontwikkelingsinisiatief.

Leave a Reply